Soldate werk ’n uur, gaan huis toe
2010-12-02 07:15
Kaapstad – Sommige soldate in Gauteng moet in huise woon waar die dakke lek en die plafonne inmekaar gesak het.
By sommige basisse meld soldate om 08:00 aan vir diens en gaan om 09:00 weer huis toe.
Dít blyk uit ’n verslag oor ’n ondersoek na die werkomstandighede van soldate wat maande lank geheim gehou is. Beeld se susterskoerant Die Burger is nou in besit van die finale verslag, wat verlede maand voltooi is.
Lindiwe Sisulu, minister van verdediging, het in Oktober verlede jaar ’n tussentydse militêre dienskommissie (MDK) in die lewe geroep met die opdrag om die huidige werkomstandighede van soldate te ondersoek.
In die finale verslag is dit die bedenklike omstandighede waarin soldate woon wat onder die loep kom.
Die MDK waarsku opnuut dat die swak huisvesting ’n nadelige uitwerking op soldate se moreel, dissipline en gevegsgereedheid kan hê. “Dié omstandighede kweek woede en frustrasie,” lui die verslag.
Gedurende die MDK se besoeke aan Doornkop en Lenz in die Johannesburg-gebied is bevind dat soldate in wooneenhede moes bly waarvan die dakke en pype gelek het, plafonne ingesak het en deure en vensters gebreek was.
“Dit is ’n blatante skending van die regte en menswaardigheid van soldate en hul gesinne,” lui die verslag.
Ander punte wat die MDK geopper het, sluit in:
- Swak dissipline onder soldate:
By die Doornkop- en Lenz-basis lê soldate glo leeg omdat daar glo nie behoorlike toerusting en fasiliteite is sodat hulle hul werk kan doen nie. Daar is beweer dat die troepe by dié basisse om 08:00 aanmeld en teen 09:00 weer huis toe gaan.
- Gebrek aan leierskap:
By 21 Bataljon is die bevelvoerder ’n majoor, en daar is aanbeveel dat ’n bevelvoerder wat ten minste ’n luitenant-kolonel is, onmiddellik beheer daarvan moet oorneem.
- Swak loopbaanbeplanning en -geleenthede:
Soldate kla dat nepotisme en voortrekkery aan die orde van die dag is en dat diegene met akademiese kwalifikasies nie gebruik word vir take wat by hul kwalifikasies pas nie.
- Aantygings van rassisme:
Diegene met junior range loop onder rassisme deur, terwyl ander soldate weer aanvoer dat “politieke aanstellings” plaasvind wat tot rassisme en polarisasie lei.
Sisulu het byna ’n jaar lank botweg geweier om die inhoud van die tussentydse verslae oor die stand van die weermag bekend te maak.
Sisulu wou verlede week steeds nie sê of sy bereid sou wees om die finale verslag openbaar te maak nie. Volgens haar was daar eers ’n “aantal prosesse” waardeur die verslag moes gaan.
In ’n tussentydse verslag wat verlede jaar voltooi is, is Sisulu gewaarsku dat die lae moreel onder soldate ’n ernstige bedreiging vir staatsveiligheid kon inhou.
Sy het gehoor gegee aan die waarskuwings en in Desember verlede jaar toegesien dat soldate salarisaanpassings kry.