Soldate sal geskors word
2009-08-27 08:56
Johannesburg – Die soldate wat gister deur rubberkoeëls en traangas uitmekaar gejaag is tydens ‘n onwettige optog, sal onmiddellik en sonder betaling geskors word, het Lindiwe Sisulu, minister van verdediging, gesê.
Omtrent 2 000 soldate staar streng dissiplinêre straf in die gesig nadat geweld uitgebreek het tydens ’n optog na die Uniegebou in Pretoria.
Die optog deur die soldate was vir salarisverhogings.
Twee soldate is in hegtenis geneem en aan die militêre polisie oorhandig.
“Ek het die hoof van die Suid-Afrikaanse Weermag opdrag gegee om die lede wat deelgeneem het aan die optog onmiddellik te skors,” het Sisulu aan die media gesê.
“Hulle is op verlof sonder betaling,” het sy bygevoeg.
Die optog is deur die vakbond Sandu gereël, wat tans met die weermag onderhandel vir ‘n 30% salarisverhoging.
Dit is egter nie seker of Sandu aan verdere onderhandelings sal deelneem nie.
“Ons was eintlik naby om ‘n ooreenkoms met Sandu te sluit, toe hulle die onderhandelings en vergaderings gestaak het,” het Sisulu gesê.
- Reuters