Soldate moet toe self kook
2010-09-13 08:39
Pretoria - Weermagstudente moes die afgelope twee weke self in ’n menasie begin kook nadat die kontrak van die spysenieringsmaatskappy wat dit moes doen, verval het.
Geen planne is blykbaar gemaak om verder vir die studente by die sentrum vir gevorderde opleiding wes van Pretoria te sorg toe die kontrak met die spysenier einde Augustus verval het nie.
Die oggend van 1 September is die studente, wat van oor die land kursusse by die sentrum bywoon, by die menasie ingelig daar is nie meer kos nie.
Die volgende dag is hulle in kookspanne opgedeel.
Dít terwyl sommige besig is met motor-instandhouding- en gevorderde rekenaarkursusse.
Toe daar niks in die spense meer oor was om te kook nie, het die sentrumbestuur rantsoenpakkies aan die studente uitgedeel.
Nadat dit ook op was, moes die studente noodgedwonge vir hulself begin sorg.
Die weermag het glo reeds maande lank nie die spysenier se rekening betaal nie.
Toe die kontrak verval, is die kosvoorsiening summier gestaak.
Die studente is daarna ingelig dat hul kursusse, wat reeds meer as halfpad is, dalk opgeskort en hulle huis toe gestuur kan word.
Van die studente se bevordering en loopbane vereis dat hulle van dié kursusse moet voltooi.
Hulle sou dus hul loopbaanvordering moes opoffer bloot omdat iemand nagelaat het om ’n nuwe spysenieringskontrak te sluit, het ’n ingeligte aan Beeld gesê.
Na verneem word, is daar reeds geruime tyd probleme met die kontantvloei by die sentrum.
Van die soldate wat vir bestuurslesse daarheen gaan, kry glo hul opleiding in dieselvragmotors omdat daar nie petrol vir die sedanvoertuie is nie.
Toe die studente die afgelope week nie eens meer koffie of tee kon kry nie, was dit die laaste druppel wat die emmer laat oorloop het.
Die weermag beskou die gebeure volgens kol. Petrus Motlhabane, woordvoerder, in ’n baie ernstige lig.
Die spysenier se kontrak gaan nou op ’n maandelikse basis hernu word om te verseker dat die studente dadelik weer kos kry.
Motlhabane het ook die versekering gegee dat die weermag sy studente nie vir die duur van die huidige kursusse sal laat honger ly nie.
Na verneem word, word alle kursusse behalwe dié wat tans aan die gang is glo daarna opgeskort totdat die sentrum sy sake in orde gekry het.
Motlhabane het nie gesê wie nagelaat het om die spyseniering te verseker nie.
- Beeld