Soldate moet dalk honger marsjeer
2011-07-23 09:23
Johannesburg – Soldate in die weermag se Algemene Steunbasis Potchefstroom sal eersdaags dalk moet begin leer om met ’n leë maag te marsjeer.
Probleme met die betaling van kontrakteurs wat vars rantsoene aan die basis se menasies moet lewer, het die laaste paar maande vir die tweede keer in ’n jaar kop uitgesteek.
Volgens ’n kontrakteur het hy genoeg gehad en einde April opgehou om voorraad aan die basis te lewer.
Hy sukkel steeds om betalings van duisende rande te kry vir aflewerings wat van Januarie dateer uit die weermag te kry.
“Dit is soos ’n stadige staking as ’n mens iemand in die basis in die hande probeer kry om die saak op te los.
“Toe ek onlangs my lêer by die eenheid gaan soek het sodat ons die nodige dokumente kan opspoor, was dit klaar in die argief toegesluit. Die feit dat die betalings onafgehandel is, het duidelik om dié rede ook vergete geraak,” het hy gesê.
Die rantsoene wat geraak word, sluit vars en verwerkte vleis, brood en groente in. Van die kontrakteurs lewer reeds jare lank voorraad aan die basis, maar van hulle het nou genoeg gehad.
Volgens nog ’n kontrakteur word belastingfakture en afleweringsnotas, wat alles in ’n register aangeteken moet word, eenvoudig weggegooi. Daarsonder kan betalings nie gedoen word nie.
“Ons word letterlik gesaboteer en die tragiese gevolge is dat die soldate daaronder gaan ly,” het hy gesê.
Nadat Beeld verlede jaar oor soortgelyke probleme geskryf het, het dit volgens die kontrakteurs ’n paar maande beter gegaan.
“Nou is daar eenvoudig so ’n administratiewe gemors dat ons dit nie meer kan uithou nie.”
Kol. Charl de Klerk, weermagwoordvoerder, het in reaksie daarop gesê die weermag is bewus van “spesifieke uitdagings” wat die betaling van sekere kontrakteurs betref.
Al die rolspelers, insluitende die kontrakteurs, gee tans dringend aandag aan die saak, het hy gesê.
“Van die uitdagings sluit in die laat indiening van fakture of dat die dokumente aan die verkeerde personeellede gegee word. Daar is ook teenstrydighede tussen die bedrae betaalbaar en die hoeveelhede wat gelewer is,” het De Klerk gesê.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Beeld