Soldate moet bonusse teruggee
2012-12-20 10:16
Johannesburg – Nagenoeg 200 lugmagsoldate wat foutiewelik merietebonusse toegeken is, moet die geld terugbetaal, het Beeld berig.
’n Omsendbrief wat lui dat hulle die bonusse moet terugbetaal omdat dit foutief toegeken is, is pas intern versprei. Baie van die soldate is reeds met vakansie en sal eers die brief sien wanneer hulle in Januarie terugkeer werk toe.
Van dié wat nog by die werk is, het regsadvies ingewin en sê hulle gaan die saak in die hof uitbaklei omdat die brief onreëlmatig is.
Die weermag se merietebonusse word gewoonlik vroeër in die jaar uitbetaal, maar vanjaar is dit saam met die Desember-salaris betaal.
Soldate weet ook nie totdat die geld in hul bankrekeninge is of die bonusse aan hulle toegeken is nie.
Die afgelope jaar was daar blykbaar ’n riglyn van hoër gesag dat diegene wat die afgelope jaar bevorder is nie ook ’n merietebonus mag ontvang nie.
Luidens die brief gaan die bonusse in Januarie ten volle van hul salarisse verhaal word en daarom word hulle vermaan om dit nie te gebruik nie.
“Dit is ’n groot gemors, want ons het mos nou klaar belasting op die bedrag betaal. Hoe gaan ’n mens dít regstel en wat doen ons as die belastinggaarder ons daarop aanslaan?
“Hoe gaan die lugmag sy optrede verduidelik as iemand wat nou met verlof is in Januarie terugkeer en vind hy kry geen salaris nie? Dit gaan mos chaos veroorsaak,” het ’n soldaat gesê.
Volgens die lugmag was niemand teen Woensdag beskikbaar om kommentaar te lewer nie.
– Volg Nuus24 op Twitter