Soektog na onwettige mynwerker duur voort
2012-09-24 17:02
Johannesburg – Nooddienswerkers het Maandag voortgegaan met ‘n soektog na ‘n onwettige mynwerker wat vasgekeer was in ‘n ou mynskag in Durban Deep, Roodepoort.
“Die soektog is Maandagoggend om 10:00 hervat,” het Robert Mulaudzi, woordvoerder van die nooddienste, gesê.
“Ons moes met ‘n ander manier vorendag kom om te beweeg, so ons sal sien hoe ver ons kan gaan om die onwettige mynwerker te red,” het hy gesê.
Die man en vier ander onwettige mynwerkers het die myn, wat naby Dobsonville is, deur ‘n ongebruikte skag wat afgesper was binnegegaan. Hy is al van Donderdag af vasgekeer.
Die ander kon daarin slaag om uit te kom.
Reddingswerkers het ‘n afstand van drie kilometer ondergrond gedek, maar het die soektog Vrydag ná 16 ure gestaak, aangesien die omgewing waarin hulle gewerk het kleiner en meer onveilig geword het.
Mulaudzi het gesê die omgewing is gevaarlik as gevolg van rotse wat kan val.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA