Soektog duur voort na vermiste seun in Oos-Kaap
2012-01-03 13:38
Johannesburg – Die soektog na ‘n 10-jarige seun wat deur ‘n man in ‘n plantasie by die Khothana- informele nedersetting in Nqamakwe in die Oos-Kaap ontvoer is, sal Dinsdag voortgaan, het die polisie gesê.
Die honde-eenheid en plaaslike polisie het vroeg Dinsdag na Mesuli Mtebhele begin soek, het kapt. Jackson Manatha gesê.
“Die seun is nog nie gevind nie, so ons is steeds op soek na hom. Ons sal nie ophou totdat ons hom gevind het nie. Niemand het nog na vore gekom nie, so ons het geen leidrade oor hoe die man lyk nie.”
Mtebhele en sy 11-jarige vriend, Athi Cekiso, het skape opgepas toe ‘n man hulle Sondagmiddag genader het.
“Hy het met ‘n dolk uit die bome gekom en die seuns gejaag. Cekiso het weggehardloop, maar Mtebhele is deur die man gevang,” het Manatha gesê.
‘n Saak van ontvoering word ondersoek.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA