Soektog duur voort na seun in Kalkbaai-see
2011-04-29 08:06
Kaapstad – Die soektog na James Fisher (14), die seun van Lotusrivier wat vroeg Woensdagoggend van die hawemuur by Kalkbaai in die see geval het, duur voort.
Fisher het omstreeks 04:30 saam met ’n vriend en dié se vriendin op die hawemuur gestaan en visvang. Hy het blykbaar met die ingooi van sy lyn gegly en in die see beland.
Fisher het aan sy vriende gesê hy gaan probeer om uit die hawe in die rigting van die strand te swem, maar sterk seestrome het hom vermoedelik meegesleur.
Hy is nooit weer gesien nie.
Craig Lambinon, woordvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), het Woensdag gesê Fisher het vermoedelik verdrink.
Lt.kol. André Traut, Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, het Donderdag bevestig dat polisieduikers steeds op die toneel na Fisher soek.
Sy tannie, Crystal Moses, was laat Donderdagmiddag op pad na ’n polisiekantoor om Fisher as vermis aan te meld.
Sy het gesê Fisher se ouma, Desiree Williams, is steeds diep geskok.
“Ons het werklik gehoop ons sou teen dié tyd sy lyk kon vind,” het Moses gesê. “Ons het niks om mee te werk nie en ons kan nie eens reëlings tref vir ’n begrafnis nie.”
- Die Burger