Só lyk vermeende 'Sondagverkragter'
2011-12-14 09:30
Krugersdorp – “Jy kan maar vir my kyk. Dit was my dogter.”
Só het Shireen de Waal, ma van die vermoorde skoolmeisie Louise de Waal (16), Dinsdag haar dogter se vermeende verkragter en moordenaar toegesnou toe hy na die selle onder die Krugersdorp-streekhof gelei is.
Dit was Dinsdag die eerste keer dat De Waal Johannes Jacobus Steyn (35), ook bekend as die vermeende Sondagverkragter, se gesig gesien het.
Sy, Louise se suster, Jessica du Toit, haar swaer, David Agsteribbe, en ’n familievriend het heel voor in die stampvol hofsaal gesit.
’n Doodse stilte het op De Waal se woorde aan Steyn gevolg, waarna mnr. Vic de Beer, ’n inwoner van Florida, die woord “vark” hard geskree het. “Hy sit daar (in die hof) soos ’n meneer. Hy dink hy’s ’n donnerse hero,” het ’n ontstoke De Beer buite die hof gesê.
Louise is vier dae voor haar 17de verjaardag op pad na die Hoërskool Die Burger in Roodepoort ontvoer. Haar verkoolde lyk is die volgende dag op ’n plaas in Magaliesburg gekry.
Steyn het met sy vorige hofverskyning twee maande gelede sy gesig vir fotograwe en lede van die publiek toegehou, maar Dinsdag het hy selfvoldaan in ’n netjiese liggeel hemp en khakibroek die landdros stip aangekyk.
Steyn staan tereg op 32 “ernstige” aanklagte, waaronder die moord en verkragting van Louise (16).
Benewens moord en verskeie aanklagte van verkragting staan Steyn ook tereg op aanklagte van seksuele aanranding en menseroof.
Al sy slagoffers was jonger as 18.
Een van die twee staatsaanklaers in die saak, adv. Carina Coetzee, het vir landdros Keith Page gevra om die saak tot Februarie volgende jaar uit te stel omdat ’n verslag van die forensiese laboratorium eers in Januarie beskikbaar sal wees. Dit is ook nog nie duidelik wanneer ’n toksikologie-verslag, wat nodig is om die nadoodse ondersoek te voltooi, beskikbaar sal wees nie.
Die staat en Steyn se regsverteenwoordiger, Jack van Heerden, het ingestem dat al die aanklagte teen hom gesentraliseer moet word.
Die polisie vermoed hy word verbind met ontvoerings en verkragtings in Vanderbijlpark, Krugersdorp, Potchefstroom, Carletonville, Pretoria en Rustenburg.
Lee Lerm, ’n trauma-berader wat De Waal in die hof ondersteun het, het ná die verrigtinge gesê dit gaan nie goed met haar nie. “Sy het haar dogter verloor, geen regstelsel gaan haar terugbring nie.”
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld