Só is Kotzé vasgetrek
2012-01-12 06:51
Modimolle (Nylstroom). – Terwyl die polisie, die Valke en Interpol landwyd na hom gesoek het, het die mees gesoekte misdaadverdagte in die land langer as ’n week net buite dié dorp gewoon en selfs meer as een keer in ’n supermark ín die dorp kos gekoop.
Hy het boonop minstens een keer met sy wit Toyota Fortuner, waarna die polisie ewe hard gesoek het, na die winkel toe gery.
Johan Kotzé (50) het skaars 2 km buite dié dorp in sy Toyota gebly.
Hy is Woensdagoggend om 11:45 in ’n rustige straat by ’n vriend se huis aangekeer waarheen hy gestap het. Hy het doodluiters by die vriend, mnr. Dirk van der Merwe, se huis in Schoemanstraat opgedaag.
“Ek het my g*t afgeskrik. Al wat hy gesê het, is ‘ons moet praat’,” het ’n geskokte Van der Merwe Woensdag gesê. Van der Merwe het die polisie gebel, waarna speurders Kotzé in hegtenis gaan neem het.
Kotzé het verlede Dinsdag drie mans glo gehuur en glo opdrag gegee om ’n vrou te verkrag. Kotzé self het die vrou glo gesodomiseer.
Hy het glo ook Conrad Bonnette (19), sy stiefseun, koelbloedig doodgeskiet.
“Dankie tog!” het die vrou Woensdag gesê toe sy meegedeel is dat Kotzé gevang is. Sy is steeds in ’n plek van veilige bewaring.
Brig. Hangwani Mulaudzi, kommunikasiehoof van die polisie in Limpopo, het gesê een van die drie mans is gister omstreeks 00:30 in Hammanskraal buite Pretoria in hegtenis geneem. Dié man (42) is in polisieaanhouding. Sy twee makkers is nog soek.
Kotzé is Dinsdagaand by ’n supermark in Boshoffstraat gesien waar hy brood en boeliebief gekoop het.
Francis du Preez, ’n inwoner, het vertel haar skoondogter, Surinda du Preez, het omstreeks 20:00 in Boshoffstraat gery om haar kinders “aan die slaap te sus”. “Sy het die Fortuner van voor af sien aankom. Sy het by die kafee gestop, by die deur ingekyk en in sy gesig vasgekyk. “Sy het vreeslik geskrik.” Haar skoondogter het haar gebel en sy het haar twee seuns, Anton en Werner, laat weet. Dié het die polisie laat weet en na die Drie Hekke-hoewes, waarheen hulle gemeen het die Fortuner heen gery het, gery.
Dit is sowat 2 km van ’n ou kragsentrale af. Die gebied is dig bebos. Dit is sowat 5 km van Van der Merwe se huis.
Hier het Kotzé teen ’n doringboom vasgery. Die Du Preez-broers het op die voertuig, waarvan die ligte nog gebrand het, afgekom. Die voorruit was gekraak en die modderskerm gebuig. Kotzé het voor hul aankoms te voet verder gevlug.
“Hy was onder ons neuse en niemand kon hom kry nie,” het Du Preez gesê.
Daar was twee komberse op die voertuig se agtersitplek. ’n Gasbottel, velskoene en verskeie leë koeldrankbottels is agter in die motor gekry.
Op die voorste sitplek was ’n A4-skryfblok waarin hy elke dag iets geskryf het.
“Hy het beslis in die kar gebly,” het ’n polisiebeampte gesê.
Volgens Van der Merwe, aan wie die huis in Kerkstraat behoort waar die treurspel hom afgespeel het, het Kotzé “lewensmoeg en gehawend” gelyk toe hy by hom in Schoemanstraat opgedaag het. Dit is ’n klipgooi van die supermark waar hy kos gekoop het. “Ek het gesê ek sal vir ons koffie laat maak en toe het ek die polisie gaan bel.”
Die polisie het Van der Merwe Woensdag ondervra. Hy het nié skuiling aan Kotzé gebied nie. Kotzé het hom verlede Woensdag gebel en gesê hy is “moeg vir die lewe”.
Beeld verneem Kotzé het Sondagaand ook kos by die supermark gaan koop.
Kotzé sal Vrydag in die Modimolle-landdroshof op onder meer ’n aanklag van moord verskyn. Sy stiefseun, Conrad Bonnette (19), word op dieselfde dag om 11:00 uit die Hervormde kerk op Bela-Bela (Warmbad) begrawe.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld