"Sneller-man" vas ná speaker se moord
2010-10-05 14:43
Mpumalanga - 'n Man wat daarvan verdink word dat hy Jimmy Mohlala, speaker van die Mbombela-munisipaliteit, doodgeskiet het, is in hegtenis geneem, het die polisie in Mpumalanga gesê.
"Die man in sy 30's is Maandag omstreeks 17:00 by sy wegkruipplek in hegtenis geneem," het kapt. Leonard Hlathi gesê.
"Hy word daarvan verdink dat hy die sneller getrek het in die moord op Mohlala."
Vier ander mense is Saterdag in verband met die moord in hegtenis geneem.
Hulle het Maandag in die Kabokweni-landdroshof verskyn en is elk borgtog van R10 000 toegestaan.
Die saak is tot 5 November uitgestel.
Die polisie het meubels, wat glo uit Mohlala se huis gesteel is, by die man se wegsteekplek gevind.
Mohlala is in Januarie verlede jaar buite sy huis doodgeskiet ná hy ongerymdhede in tenders wat vir die Wêreldbeker-sokkertoernooi toegestaan is, bekendgemaak het.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA