Snelbus gaan voort ná skietery
2009-09-02 08:27
Johannesburg – Die snelbusdiens (BRT) in Johannesburg gaan voort ten spyte van ’n wilde skietery waarin twee mense gewond is.
Dié twee mense het op die BRT gereis en is in ’n stabiele toestand in die hospitaal.
Rehana Moosajee, burgemeesterskomiteelid vir vervoer, het dié voorval wat Dinsdagaand plaasgevind het, sterk veroordeel.
Alle partye in die regering is byeengeroep om die situasie te bespreek.
“Alle wetstoepassers moet hul maatreëls verskerp op die personeel, eiendom en pendelaars te beskerm.”
Dié maatreëls sluit in polisieteenwoordigheid op alle busse.
Moosajee het gesê gebeurlikheidsplanne sal ook verskerp word.
“Pendelaars moenie toelaat dat hul verbeterde openbare vervoerstelsel op dié manier ondermyn word nie.”
Twee mense is Dinsdagaand gewond toe insittendes in ’n taxi op ’n BRT-bus in Soweto geskiet het.
Die polisie is op die booswigte se spoor.
Die BRT is Sondag bekendgestel.
Sommige taxi-operateurs is gekant teen die projek omdat hulle bang is hulle verloor hul inkomste.
– Sapa