Sneeu veroorsaak chaos op SA-paaie
2012-07-14 11:27
Fotogalery - Gure weer maak wêreldwyd amok
klik op klein foto bo om groter prentjie te sien
Kaapstad – Die N1 tussen die Wes-Kaap en Gauteng is by Beaufort-Wes in die Karoo gesluit weens swaar sneeu en gure weer, het RSG Saterdag berig.
Die Wes-Kaapse verkeershoof, Kenny Africa, het gesê 'n dik laag sneeu lê op die pad, terwyl dit ook hard reën.
Verkeersbeamptes is ontplooi en motoriste word gevra om uiters versigtig te bestuur.
Die woordvoerder van verkeerbeheer op De Aar in die Noord-Kaap, Andrew Kok, het motoriste wat op die N1 en N12 by Beaufort-Wes en tussen Britstown en Drie Susters gestrand is, gevra om geduldig te wees en eerder van die pad af te trek.
Verkeersbeamptes monitor die situasie en probeer vasstel watter alternatiewe roetes begaanbaar is.
Dit sneeu ook steeds op plekke in die Oos-Kaap en talle paaie is gesluit.
Die Penhoekpas op die N6 tussen Queenstown en Jamestown is gesluit, asook die Wapadspas op die R61 tussen Cradock en Graaf Reinet, die Boesmanhoekpas op die R397 en die Lootsbergpas tussen Graaf Reinet en Middelburg.
Arrive Alive sê dit sal waarskynlik 'n geruime tyd wees voordat die passe weer begaanbaar sal wees.
In Ceres het sneeu ook oornag op die Matroosberg geval en die boonste deel van die berg is in 'n dik sneeulaag gehul.
Die eienaar van die Matroosberg privaat natuurreservaat, Didi de Kock sê nuuskieriges stroom na die reservaat om sneeu te sien ondanks uiters koue en winderige weerstoestande.
Volg Nuus24 op Twitter.
– RSG