Sneeu ontwrig verkeer
2011-07-27 06:59
Bethlehem - Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) moes Dinsdagmiddag ingryp nadat swaar sneeuneerslae in die Oos-Vrystaat verkeer op die N3 en N5 sedert Maandagaand tot stilstand geruk het.
Die swaar neerslae in die omgewing van Harrismith, Kestell en Qwaqwa het veroorsaak dat voertuie en vragmotors Maandagaand op paaie begin vasval het.
Die verkeersdepartement het die N3 tussen Villiers en Van Rheenen gesluit, asook die N5 tussen Bethlehem en Harrismith. Dit het meegebring dat honderde vragmotors op Bethlehem en Harrismith begin ophoop het.
Dinsdagoggend het honderde vragmotors oral op Bethlehem geparkeer gestaan en het verbaasde inwoners gewonder of dit ’n massa-staking is.
’n Paar vragmotorbestuurders moes Maandagaand op die N5 tussen Bethlehem en Kestell in hul vragmotors oorslaap nadat die pad onbegaanbaar begin raak het.
Krishna Singh en Keith Michaels van Kaapstad sê dit was ’n bittere koue aand. “Ons laat die vragmotor so dan en wan luier en sit die verwarmer aan, maar jy kan ook nie heeltyd nie. Die ding gebruik diesel. As jy gaan water afslaan, vries die spul net daar. Dis rof.”
Talle bestuurders, soos Pieter Coetzee, moes op Bethlehem oornag.
“Nee jis, wat gaan hier aan? Ek dog ons is in Afrika? Hierdie sneeuery hou ons geld terug. As ons nie ry nie, is daar nie geld nie. Hoe dink jy gaan dit lyk as al hierdie lorries gelyk wil wegtrek. Dit gaan chaos wees.”
Teen Dinsdagaand laat het verkeersowerhede die N5 weer begin oopstel, maar verkeer die hele tyd gereguleer. Verkeer op die N3 is oopgestel tot en met Van Rheenen waar slegs ’n enkele baan na Durban verder toegelaat is om te ry.
Marius en Henny de Kock was Dinsdag al die pad van Somerset-Wes op pad na hul seun in Durban, maar het hulle buite Bethlehem in die geslote N5 vasgery.
“Dis nou ’n ding. Ek dink ons moet maar op Bethlehem oorbly vandag, want hier gaan lank gewag word,” het mnr. De Kock gesê nadat hy met verkeersbeamptes gesels het.
Hoewel Bethlehem geen sneeu gehad het nie, het die wêreld net buite die dorp wit begin verkleur en die sneeu al hoe dikker geword in Harrismith se rigting.
Kestell was amper onsigbaar en net hier en daar het ’n huisdak en die kerktoring uitgesteek. Paaie om die dorp was nog vol sneeu en ys en sowat 5 km na Bethlehem het ’n groot vragmotor verlate in die pad gestaan.
Op Reitz was selfs die krag af ná die swaar neerslae. Talle elektrisiteitspale en drade is glo beskadig – ook op Harrismith. Nadat paaie in en na die Golden Gate-Hoogland- Nasionale Park teen die middag vir verkeer oopgestel is, het toeriste ingestroom om die sprokieslandskap te bewonder.
Hennie Breytenbach en Denicé Diesel van Welkom het behoorlik in die sneeu rondgeval. In ’n stadium was net hul bolywe bo die sneeu sigbaar, so diep was dit.
Agterop Shaun Minns se bakkie het hy en Nadine Lombard ’n groot sneeuman gebou en met hom Bethlehem toe gery.
Geen verdere sneeuneerslae is vir Dinsdagaand voorspel nie.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Volksblad