Sluipmoordenaar vas oor vervalsing
2011-12-29 09:11
Kaapstad. – Die veroordeelde Serwiese sluipmoordenaar wat homself Dinsdag aan die polisie oorgegee het, het gister in die Kaapstad-landdroshof verskyn.
Dobrosav Gavric (38) van Serwië word aangekla van die vervalsing van identiteitsdokumente en paspoorte.
Hy is glo sedert 2007 in Suid-Afrika nadat hy uit Serwië gevlug het voordat hy gevonnis is.
Hy word in Serwië gesoek vir die moord op die rampokker en oorlogsmisdadiger Zeljko Raznatovic en twee ander mense. Hy is in sy afwesigheid tot 35 jaar tronkstraf gevonnis.
Gavric se ware identiteit het ná die sluipmoord vanjaar op mnr. Cyril Beeka (49), ’n bekende figuur in die plaaslike onderwêreld, bekend geword.
Hy het onder die naam Sasa Kowasewic in Suid-Afrika bekend gestaan. Dit is as gevolg van paspoorte en identiteitsdokumente wat in die naam van Kowasewic uitgemaak is, dat hy in die Kaapstad-landdroshof aangekla word.
Gavric het die BMW X5 bestuur waarin Beeka was toe twee mans op motorfietse hom naby die Universiteit van Wes-Kaapland doodgeskiet het.
Die staatsaanklaer, mnr. Titi Mthimunye, het gesê die beskuldigde het homself aan die polisie oorgegee. “Daar is ’n hangende uitleweringsaansoek van Serwië teen die beskuldigde,” het hy bygevoeg.
Mthimunye het gesê Gavric wil om borgtog aansoek doen.
Landdros Justhree Steyn het die saak tot 10 Januarie uitgestel.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Beeld