'Slegs' 27 reise, 22 motors vir Zwelithini
2010-03-10 10:48
Durban – Die Zoeloe-koning Goodwill Zwelithini gaan tot 24 plaaslike reise en slegs drie internasionale besoeke per jaar beperk word, om sodoende die uitgawes van die koninklike huishouding te beperk, het die Mercury Woensdag gerapporteer.
Roger Govender, waarnemende direkteur-generaal in KwaZulu-Natal se premierskantoor het gesê die besteding op instandhouding van die koning se vyf paleise is ook ingekort.
Volgens Govender gaan die koning en koninginne se reise ook beperk word, asook die uitgawes op plase.
Die departement van die koninklike huishouding was R40 miljoen toegeken vir die 2010/2011 finansiële jaar. Die departement was uitgefaseer en sou deur ‘n koninklike trust vervang word wat fondse sou insamel vir die koninklike familie.
Die koning se voertuie is vanaf 32 na 22 verminder, en die provinsiale regering gaan vir die instandhouding betaal.
Die departement van die koninklike huishouding was nog elke jaar blameer dat hulle miljoene rande oorbestee het.
- Sapa