Slapende motoris in botsing betrokke
2009-11-23 06:07
Dries Liebenberg
Durban. – ’n Motoris wat aan die slaap geraak het terwyl hy gewag het dat ’n ongelukstoneel op die N2-hoofweg hier opgeruim word, het eers wakker geskrik toe ’n motor van agter teen sy bakkie bots.
Teen daardie tyd was die ongelukstoneel reeds opgeruim en al die ander voertuie vort terwyl die man se bakkie naby die Clareweg-brug in die regterkantste baan van die N2 bly staan het, het Jeff Wicks, woordvoerder van Netcare 911, gesê.
Die ongeluk wat die verkeersopeenhoping veroorsaak het, het eergister omstreeks 19:00 gebeur toe ’n motor getol en op die middelmannetjie tot stilstand gekom het. Die bestuurder en sy drie passasiers is beseer.
Sowat ’n driekwartier later het ’n BMW teen die stilstaande bakkie gebots nadat al die ander voertuie al aangery het.
Die bakkiebestuurder is ongedeerd, maar die bestuurder van die BMW is ernstig beseer.
“Soms is mens net gelukkig,” het Wicks oor die bakkiebestuurder opgemerk.
Dit was een van minstens sewe ongelukke die naweek op KwaZulu-Natal se paaie waarin vier mense dood en 34 beseer is. Drie van die vier noodlottige ongelukke het eergisteraand gebeur.
Op die N11 naby Newcastle is een passasier in ’n taxi-ongeluk dood en nege beseer. Agt van dié beseerdes is in ’n bedenklike toestand.
Altesame 14 mense is ook in ’n taxi-ongeluk by Ashburton op die N3 beseer. Een van die taxi se bande het vermoedelik gebars.
- Beeld