Slang ry twee weke saam in bakkie
2011-02-09 09:03
Port Elizabeth - ’n Familie van Sardiniabaai het twee weke lank onwetend met ’n dodelike boomslang in die kajuit van hul Isuzu-bakkie rondgery.
En dit was Amoré Bekker se geselsprogram op RSG wat uiteindelik vir ta uit sy wegkruipplek laat seil en pandemonium in die voertuig gesaai het.
Dalize Bekker, die slang se onwillige taxibestuurder, was Dinsdag steeds bewerig terwyl sy vertel het van haar beproewing met die ondier.
Bekker se broer, Gerdus Bekker, het gesê hul honde op die kleinhoewe naby Sardiniabaai het twee Saterdae gelede die slang onder die bakkie ingejaag. “Ek het gesien dis ’n lélike knewel met onheil op die brein, maar ek kon hom net nie van die petroltenk afkry nie.”
Nadat die Bekkers hom nie kon loskry nie, het hulle moed opgegee, gehoop die adder verdwyn en gaan rugby kyk.
Dit was eers toe hy Maandagmiddag sy suster se histeriese oproep kry dat hy weer van die slang onthou het. “Dalize het eenstryk deur langs die bakkie rondgetrippel en geskree ‘skiet hom, skiet hom’!”
Me. Bekker het gesê sy het teen so 120km/h na Amoré se praatjies geluister toe sy uit die hoek van haar oog ’n beweging langs haar gewaar. “Ek kan glad nie verduidelik hoe ek gestop, myself oopgesluit gekry óf uit die kar gekom het nie. Ek weet net ek het ’n paar keer uitgeklim met die bakkie soos ’n skilpaddop aan my rug voordat ek besef het ek is nog vasgegordel.”
Sowat 15 polisiemanne was later op die toneel, maar het net van ver af staan en raad uitdeel.
’n Slangvanger is uiteindelik ontbied en drie uur later is die vreesbevange slang – van 1,2m lank – gevang en vrygelaat.
Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger