Slagting op Noordwes-paaie
2012-07-03 09:45
Johannesburg – Altesaam 17 mense is die afgelope naweek dood in motorongelukke in die Bojanala-distriksmunisipaliteit, het die departement van gemeenskapsveiligheid in die Noordwes Maandag gesê.
Elf mense is Saterdag op die N4 dood nadat 'n Toyota Venture omgeslaan en deur 'n ander motor getref is, het Simon Lesolang Mmope, 'n woordvoerder, gesê.
'n Minibus het daarna teen die wrak van die motor gebots.
Vier mense is Sondag dood toe twee motors op die R24 in 'n kop-aan-kop-botsing betrokke was.
Twee mans is Vrydag dood nadat hul Mercedes Benz en 'n Ford Fiesta op die N4 gebots het.
Nono Maloyi, die Noordwes se LUR vir gemeenskapsveiligheid, het gesê hy is bekommerd oor die toenemende aantal sterftes op die provinsie se hoofweë.
"Ek doen 'n beroep op motoriste om, veral saans, nie op ons paaie te jaag nie. Spoed veroorsaak sterftes en vandag het ons al hierdie sterftes weens spoed."
Altesaam 42 nuwe verkeersbeamptes sal vandeesweek in die provinsie ontplooi word "om die lewens van oortreders baie moeilik te maak", het Maloyi gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA