Slagoffers van vloede het nóú hulp nodig
2011-02-11 07:04
Parys - Die verreikende skade van die onlangse vloede in die Vrystaat beloop reeds etlike miljarde rande en die regering moet nóú geld uithaal om rampslagoffers te help, sonder om eers te wag vir die afhandeling van uitgerekte begrotingsprosedures.
Só sê Princess Sekulisa, hoof van die provinsiale sentrum vir rampbestuur, ná ’n skadeberamingsondersoek op Parys.
Die departement van samewerkende regering, tradisionele leierskap en huisvesting het vandeesweek ’n afvaardiging van die nasionale sentrum vir rampbestuur gelei op ’n besoek aan die platteland om die trefkrag van die vloede te bepaal.
Petrusburg, Qwaqwa, Sasolburg en Parys is besoek.
Sekulisa sê sy het nog nie eens die volle omvang van die skade gesien nie, maar dit wat sy wel gesien het, veroorsaak dat sy snags nie ’n “oog kan toemaak” nie.
Oeste is vernietig, plaaswerkers sit sonder werk, paaie is verspoel en duisende stukke huisware is beskadig.
Volgens Sekulisa gaan die regering straks so gou as vandag om ’n tafel sit en hulpverleningsplanne beraam.
“Die skade is verskriklik. Ons moet dadelik geld kry om hulp te kan verskaf, sonder om te wag op langdradige begrotingsprosesse om afgehandel te word.
“Sover is miljarde rande nodig.”
Sy wei nie uit oor waar dié astronomiese bedrae uitgekrap gaan word nie.
Die hulpverlening behels volgens Sekulisa die verskaffing van kos, klere en huisvesting aan rampslagoffers.
Die afvaardiging het die munisipale streke Fezile Dabi (Noord-Vrystaat), Thabo Mofutsanyana (Oos-Vrystaat) en Letsemeng (die Petrusburg-omgewing) besoek nadat dieonderskeiemunisipaliteite rampbestuurverslae opgestel het.
“By Petrusburg is daar nie meer paaie vir die plaasgemeenskap nie en plaaswerkers sit sonder werk. Oeste is vernietig.
“Wat gaan ons mense eet? Die verliese is onmeetlik.”
Die toestand van die verspoelde R26 tussen Ficksburg en Clocolan wek groot kommer, sê Sekulisa.
“Ná ’n besoek aan die Sasolburg-omgewing is die skade dáár alleen op R7 miljard geraam.”
Woonerwe in die Sasolburgse swart woongebied Amelia is in “vleilande” omgeskep.
Water het huise binnegestroom en meubels het rondgedryf.
Sekulisa het nie prontuit na die regering of munisipaliteit(e) verwys nie, maar gal gebraak oor “diegene” wat toegelaat het (en steeds toelaat) dat huise in laagliggende dele gebou word.
Sy meen ’n ordentlike omgewingstudie oor waar huise gebou word, sou vloedgevare uitgewys en baie skade voorkom het.
Dié huise het die ergste deurgeloop, veral in die Mandela View-township op Parys.
Sekulisa sê inwoners moet ook hul kant bring.
“As mense in laagliggende dele die reën in die verte sien kom, moet hulle vroegtydig hul huise ontruim en nie eers as die water by die voordeur instroom nie.”
Die regeringsafgevaardigdes is baie bekommerd oor die impak van die vloede op infrastruktuur soos brûe, veral een buite Oranjeville wat straks kan meegee as dit weer onder vloedwater beland.
Sekulisa sê sy wil dit nie eintlik hardop sê nie, maar “ons in Bloemfontein” kan baie dankbaar wees dat daar nie soveel skade is soos op die platteland nie.
- Volksblad