Lindley-moord: Slagoffer 'goed vir werkers'
2011-05-28 10:32
Bloemfontein – Attie Potgieter van Lindley wat saam met sy gesin vermoor is, was goed vir sy werkers.
Twee boere wat in die omgewing van die plaas Tweefontein woon, het Vrydag getuig in die moordverhoor van die ses beskuldigdes. Drie van hulle was werkers op Potgieter se plaas.
Die twee boere was van die eerste mense wat op die lyke van Potgieter, sy vrou, Wilna, en hul dogtertjie, Willemientjie, afgekom het.
Henk Human van die plaas Kiepersol het getuig dat Potgieter ’n “besonderse verhouding” met twee van sy vermeende moordenaars, Stemmer Mofokeng en Vusi (Paulus) Khumalo, gehad het. Hy het hulle vertrou.
Human het getuig Potgieter, vir wie hy goed geken het, was ’n goeie en opregte mens wat vir sy werkers omgegee het.
In kruisondervraging van adv. Lawrence Tshabalala, namens Klaas Mofokeng, die derde plaaswerker, het Human getuig dat Potgieter ook vir Mofokeng vertrou het. Potgieter was ’n barmhartige man wat nooit sleg van sy werkers gepraat het nie.
Christiaan van Tonder van die plaas Soudan het getuig Potgieter het ’n goeie verhouding met die werkers gehad en was goed vir hulle.
Uit verklarings wat Khumalo en Mofokeng ná die moorde voor landdroste afgelê het, blyk dit dat dié drie plaaswerkers kort voor die moorde saam beplan het om Potgieter en sy vrou te laat doodmaak om geld wat hulle geglo het in die plaasopstal se kluis was, in die hande te kry.
Van Tonder het getuig hy was die oggend ná die moord op pad na Arlington toe hy die twee Mofokengs en Khumalo in die pad gekry het. Hulle het gesê hul werkgewer lê buite die huis. Hy het hulle opgelaai en op Twee-fontein gaan kyk. Sy buurman se lyk het by ’n draadheining gelê.
Toe hy die drie werkers later vra waar hulle die vorige dag was, het Khumalo gesê hulle het ná werk in die spruit gaan visvang.
Human, wat kort daarna opgedaag het, het getuig hy het op die plaas eers deur die vensters gekyk of hy mev. Potgieter of Willemientjie kon sien. Later het hy die agterdeur oopgeskop en die kamers deurgesoek. In ’n gastekamer het hulle op die twee se lyke op die vloer afgekom.