'Slaagsyfer sal nie swakker wees'
2010-10-15 09:20
Kaapstad - Die regering is vol vertroue dat daar nie ’n daling in vanjaar se matriekslaagsyfer sal wees nie, ondanks ontwrigtings soos die onderwysstaking en die Wêreldbeker-sokkertoernooi.
Die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, het Donderdag in die parlement gesê haar departement is slaggereed vir die eksamens.
“Meer as 635 000 leerders sal vanjaar se eksamens aflê. As departement is ons so gereed as wat ons kan wees. Geen haakplekke word verwag nie en ons het alle veiligheidsmaatreëls nagegaan.”
Volgens Motshekga het al die provinsies haar verseker hulle is gereed om voort te gaan met die eksamens.
“Dit is ook nodig vir die publiek om te weet dat dit straks ’n oordrywing is om te sê ons het vir vyf weke geen skoolopleiding aangebied nie. In die wintervakansie was daar winterklasse vir matrikulante en daar was ook somerkampe in verskeie provinsies.”
Volgens Motshekga hoop die regering daar sal nie ’n daling wees in die slaagsyfer nie, ondanks die ontwrigtings van die afgelope jaar.
“Ons hoop leerders sal selfs beter vaar weens die bykomende pogings wat aangewend is.
“Ek hoop daar sal nie ’n afname wees nie, maar ons sal moet wag op die uitslae om te sien of ons ekstra werk vrugte afgewerp het.”
- Die Burger