Slaagsyfer 'aangepas om talle te laat slaag'
2011-02-03 08:24
Paarl - Die vreugde oor die 7,2 persentasiepunte waarmee 2010 se matriekslaagsyfer gestyg het, getuig van die lae gehalte van onderrig waaraan Suid-Afrika gewoond is.
Só het prof. Jonathan Jansen, rektor van die Universiteit van die Vrystaat, tydens die eerste lesing van Media24 se Rachel’s Angels Trust by die Sekondêre Skool New Orleans hier gesê.
Jansen was die gasspreker by die byeenkoms en het oor sy referaat, “Waarom jy nie die seniorsertifikaat-resultate moet glo nie en wat om daaromtrent te doen”, gepraat.
Hy het uitgelig dat dié resultate beteken derduisende leerders het nie geslaag nie.
Volgens hom is hy oortuig daarvan dat Umalusi, die liggaam vir gehaltebeheer in onderwys en opleiding, na die algehele slaagsyfer gekyk het en gesien het daar is ’n groot aantal leerders nét onder die slaagsyferlyn. Hulle sou klein aanpassings in verskeie vakke maak, wat daartoe gelei het dat duisende ekstra leerders geslaag het.
“Ek is oortuig hiervan. Ek sal in die hof hieroor getuig.
“Daarom sal hulle nie inligting oor aanpassings van matriekuitslae bekend maak nie. Hulle vertel vir ons ons sal nie die statistieke verstaan nie, en dink ons is dom.”
Hy het die punt gemaak dat die standaard van die matriekeksamen oor die algemeen te laag is.
Dat leerders vakke met 30% kan slaag is verregaande, het hy gesê. “Dit beteken dié leerders het 70% van die werk nie geken nie.”
Hy het gereageer op ’n vraag oor die doeltreffendheid van die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel en gesê dit is gebrekkig. “Die probleem is onbekwame mense in sleutelposisies in die kabinet wat om politieke redes daar bly.”
“Suid-Afrikaners is bang vir bekwaamheid. Ons moet eerlik met mekaar wees oor die probleme in die onderwysstelsel.”
Hy het leerders en onderwysers by die geleentheid aangemoedig om nie na middelmatigheid te strewe nie.
“Dit maak nie saak of jy swart, wit, ryk of arm is nie – elkeen het potensiaal wat ontgin kan word.”
Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger