Skote klap naby Amplats-myn
2012-09-20 13:17
Rustenburg – Die polisie het Donderdagoggend rubberkoeëls en traangas na inwoners van Sondela naby Anglo American Platinum (Amplats) se myne in Rustenburg gevuur.
Inwoners het die pad wat na die Jabula-skag van die Amplats-myn lei, versper.
Hulle het brandende bande, klippe en ander voorwerpe in die pad gesit om die polisie te verhoed om toegang tot die informele nedersetting te kry.
Ure later het inwoners begin om winkels en stalletjies langs die pad aan die brand te steek.
Die polisie het die situasie van ‘n afstand gemonitor, maar het nie ingetree nie.
Die leier van die stakende werkers, Tebogo Lebeke, sê hulle staak sedert verlede Donderdag en eis ‘n maandelikse salaris van R17 000.
“Ons het al met die bestuur vergader en onderhandelings sal na verwagting volgende Donderdag voortduur, maar ons het SMS’e aan die myne gestuur vir werkers terug te keer werk toe,” het hy gesê.
Die SMS'e wat aan werkers gestuur is sê dat toestande bevorderlik is vir die werkers om terug te keer werk toe.
Nietemin het Lebeke gesê: “Ons gaan nie terug werk toe totdat daar nie aan ons eise voldoen is nie.”
Mpumi Sithole, woordvoerder vir Amplats, sê die maatskappy sal Donderdagmiddag ‘n verklaring uitreik oor sy bedrywighede in Rustenburg.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA