Skote klap by skool se prysuitdeling
2012-11-06 07:15
Johannesburg – 'n Pandemonium het Maandagaand by 'n laerskool aan die Wesrand se prysuitdelingsfunksie losgebars toe 'n ouer na bewering op twee ander geskiet het in 'n geveg oor 'n parkeerplek, berig Times Live.
Twee ma's en 'n pa het ligte beserings opgedoen in die voorval wat by die Culembeeck-laerskool in Witpoortjie, wes van Johannesburg, plaasgevind het.
Volgens die koerant het twee ma's, wat met hul dogters by die skool opgedaag het, met 'n ander ouer gestry oor dieselfde parkeerplek.
'n Ouer, wat anoniem wil bly, het gesê een van die vroue het toe 'n familielid gaan roep om te help.
"Die skote het net begin klap. Die persoon het die vuurwapen uitgeruk en begin skiet. Mense het probeer wegkruip en sommige ouers het bo-op hul kinders gelê."
Katlego Mogale, polisiewoordvoerder, het die skietery bevestig en gesê die verdagte sal binnekort op aanklag van poging tot moord in die hof verskyn.
Beamptes van die skool was nie onmiddellik beskikbaar vir kommentaar nie.
– Lees meer hier
– Volg Nuus24 op Twitter