Skorsings gaan oor dissipline – Mthembu
2011-11-10 14:40
Johannesburg – Die skorsing van die ANC-jeugligaleiers is 'n stap om dissipline in die party te handhaaf, het Jackson Mthembu, woordvoerder van die ANC, Donderdag gesê.
"Dit is net die begin. Ons kan nie toelaat dat mense hulself skuldig maak aan onaanvaarbare gedrag en niks daaromtrent doen nie," het hy gesê.
"Vandag is 'n stap na verbetering. Ons is vol vertroue dat ons van vandag af kan begin om die skade te herstel."
Mthembu het gesê hy is trots op die ANC.
Dit is betekenisvol dat die publiek ingelig is van die feite en bewyse van wat agter geslote deure plaasgevind het, het hy gesê.
"Miskien kan baie partye van ons leer. Geen ander organisasie sal 'n interne dissiplinêre verhoor hê en dit aan die openbaar bekend maak nie. Ons het die Rubicon oorgesteek. Die ANC sal nie dieselfde wees nie."
Hy het gesê die party se interne prosesse is daarop gemik om gedrag reg te stel en niemand is verhewe bo korreksie nie.
"Almal van ons moet gedissiplineerde lede van die ANC wees."
Mthembu het gesê hy voorsien nie enige aksie van lede ná die uitspraak nie.
Die ANC se nasionale tugkomitee het Donderdag gesê Malema het die stand van die ANC en Suid-Afrika se internasionale beeld geskaad.
Derek Hanekom, voorsitter van die komitee, het gesê Malema het hom die afgelope twee jaar verskeie kere daaraan skuldig gemaak dat hy verdeeldheid saai in die ANC.
Malema is verlede jaar skuldig bevind op aanklag daarvan dat hy pres. Jacob Zuma in die openbaar gekritiseer het.
Die nasionale tugkomitee het toe gesê indien hy homself binne die volgende twee jaar skuldig maak aan 'n soortgelyke oortreding, sal hy uit die party geskors word.
Malema is onskuldig bevind op aanklag van rassisme.
Malema, wat 'n eksamen in Limpopo afgelê het, het 14 dae om teen die beslissing te appelleer.
Hy sal sy volle salaris ontvang tot die appèlproses afgehandel is, het Mthembu gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA