Rekenaar weg ná sensusman se besoeke
2011-10-17 07:05
Bloemfontein – Die Bloemfonteinse polisie ondersoek ’n voorval waarin ’n sensusbeampte na bewering ’n blinde Kovsiestudent in sy huis van ’n skootrekenaar beroof het.
Altesaam 10 studente bly in dié huis in Universitas, Bloemfontein.
André Erasmus, ’n student aan die Food and Beverage Institute (FBI), wat in dié huis bly, sê die beampte het hul huis van verlede Woensdag tot Sondag altesaam vier keer besoek.
Hy sê tydens een van die besoeke is ’n blinde huismaat en student aan die Universiteit van die Vrystaat (UV), Gavin Harding, se skootrekenaar vanuit sy slaapkamer gesteel.
Hy sê sy naamplaatjie was tydens van dié besoeke onderstebo en hy het vrae gevra soos hoeveel skootrekenaars daar in die huis is en selfs of daar ’n stofsuier is.
“Woensdagoggend het die man doodluiters in die werf ingestap. My huismaats het groot geskrik en laat weet hulle het ’n sensusman in my kamer gekry. Ek het dadelik van die FBI huis toe gery. Ek het die man uitgetrap en gesê daar is dan ’n deurklokkie. Ek het hom gevra wat soek hy in my kamer sonder toestemming.”
Die man is toe daar weg.
“Van ons was Vrydagaand winkel toe. Dit is toe dat die man weer by ons huis was.”
Hy sê hul blinde huismaat, wat regte en kriminologie aan die UV studeer, het die deur oopgemaak.
“Die man het ingekom en wou by Gavin goed weet soos hoeveel skootrekenaars is in die huis en of hy ’n stofsuier het.”
Erasmus sê Harding het onraad vermoed. Kort nadat die man weg is, was sy skootrekenaar (wat in sy kamer was) ook weg. Die tafel waarop dit gestaan het, was nog warm.
Lede van die Parkweg-polisiekantoor het dieselfde nag vingerafdrukke in die huis kom neem.
“Saterdagmiddag was hy terug. Hy wou by my goed weet soos my identiteitsnommer, hoeveel geld ek verdien en wanneer ek gaan klaar studeer. Die man het slegs Afrikaanse vorms gehad terwyl van my huismaats Engels is.”
Sondagoggend was die man weer daar om vorms te kom haal, omdat al die huismaats nie altyd by die huis was nie en hy van die vorms daar gelos het.
Erasmus sê hulle het die polisie ontbied.
Kapt. Chaka Marope, polisiewoordvoerder, sê die man is ’n verdagte in ’n klag van huisbraak en diefstal.
Hy moet vandag by die Parkweg-polisiekantoor ’n verklaring gaan aflê oor die beweerde diefstal.
Die sensustelling duur landwyd tot 31 Oktober. Die sensustelling is verpligtend vir almal om die land se demografiese inligting saam te stel. Beamptes werk van 08:00 tot omstreeks 20:00. Elke sensusbeampte word verplig om ’n geel baadjie en identifikasiekaart te dra.
Volg Nuus24 op Twitter
- Volksblad