Skoolseuns vas oor gesteelde vuurwapen
2011-02-09 21:00
Kaapstad – Drie skoolseuns is Woensdag by hulle skool in Athlone in hegtenis geneem nadat hulle glo in besit was van ‘n gesteelde vuurwapen, het die polisie gesê.
Volgens ao. Ian Bennett, polisiewoordvoerder, het die skoolhoof die polisie ontbied nadat hy verneem het dat een van die seuns ‘n vuurwapen in hul besit gehad het.
Die polisie het die verdagte geïdentifiseer en hom genader.
Die verdagte het egter in ‘n klaskamer ingehardloop en ‘n rooi sak by die venster uitgegooi.
“’n Lorcin 7.65-pistool met ammunisie is in die sak gevind,” het Bennett gesê.
Na bewering is die vuurwapen vroeër in Mitchells Plein gesteel.
Drie seuns, tussen die ouderdomme van 15 en 17, is in verband met die voorval in hegtenis geneem.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA