Skoolseun met mes aangeval
2011-03-08 23:00
Johannesburg – ‘n 18-jarige skoolseun is Dinsdag na bewering deur ‘n 20-jarige medeleerling met ‘n mes in die bors gesteek by die Hoërskool Meadowlands, het die polisie in Soweto bekend gemaak.
“Die 18-jarige seun het glo verby ‘n groep seuns geloop wat met dobbelstene gespeel het. Een van die dobbelstene het die seun se skoen getref en ‘n bakleiery het uitgebreek,” het konst. Sibusiso Chauke, polisiewoordvoerder, gesê.
Die 20-jarige seun het daarna probeer om die slagoffer se geld en selfoon af te vat. Die jonger seun het egter teruggeveg en is in die bors gesteek met ‘n mes.
Die slagoffer is na die hospitaal gehaas vir mediese behandeling. Die verdagte sal binnekort in die hof verskyn.
In ‘n soortgelyke voorval is ‘n 19-jarige seun Maandag by die skool in hegtenis geneem nadat hy ‘n ongelisensieerde vuurwapen in sy besit gehad het.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA