Skoolseun doodgesteek
2009-09-16 10:15
Johannesburg - ’n Sewentienjarige seun is Dinsdag met ’n mes doodgesteek toe hy ’n onderonsie tussen twee medeleerlinge buite sy skool probeer beëindig het.
Twee seuns, ook 17 jaar oud, was in ’n argument betrokke buite Mhlebunzima-skool in Nceleni, 40 km oos van Mthatha in die Oos-Kaap.
Die slagoffer het tussenbeide getree. Hy is in die proses doodgesteek, het supt. Mzukisi Fatyela van die Suid-Afrikaanse Polisie Woensdag gesê.
Die seun is op die toneel dood.
Al drie seuns was leerlinge by Mhlebunzima.
Een van die leerlinge is in verband met die voorval in hegtenis geneem.
"Hy sal van moord aangekla word," het Fatyela gesê.
- Sapa