Skoolmeisie van aanranding aangekla ná video
2012-02-08 17:53
Johannesburg – ‘n Klag van aanranding teen ‘n 15-jarige skoolmeisie by die Krugersdorp Hoërskool word ondersoek nadat sy na bewering ‘n mede-leerling met ‘n glasbottel geslaan het, het die polisie gesê.
‘n Vriend van die aanvaller het die voorval, wat op 30 Januarie plaasgevind het, met sy selfoon afgeneem.
Lucky Biyela, ondersoekbeampte, het gesê daar moet versigtig met prosedures omgegaan word omdat ‘n minderjarige vir ‘n ernstige misdaad ondersoek word.
“Dit is ‘n saak wat hof toe sal gaan,” het hy gesê.
Ivan Bailey, skoolhoof van die Krugersdorp Hoërskool, het bevestig daar was ‘n dissiplinêre verhoor van die eksterne beheerliggaam om die aanval te ondersoek.
Die meisie is toegelaat om terug te keer skool toe.
“’n Skoolhoof kan nie ‘n leerder skors nie. Daar is dissiplinêre prosedures wat gevolg moet word, en dit is gedoen."
Bailey het gesê die aanval was die gevolg van ‘n reeks “skokkende gesprekke” op Facebook en op Blackberry se boodskapdiens.
“Ons skoolberaders is betrokke,” het hy gesê.
“Kuber-afknouery is iets wat ons baie ernstig opneem.”
Vanessa Wienand, die ma van die graad agt-meisie wat aangeval is, het gesê sy weet nie meer hoe om die afknouery, waarby verskeie meisies betrokke is, te keer nie.
“Dit gaan nou al maande lank aan. My kind het ‘n reg tot veilige opvoeding en hierdie reg word geskend."
Wienand het die klag namens haar dogter ingedien teen die meisie wat haar met die sapbottel geslaan het.
“Daar is ‘n klein bende van hulle wat haar vet noem, haar beledig en regtig gemeen is teenoor haar,” het die ma gesê.
“Ek het nou al die boodskappe wat hulle aan haar gestuur het, aan die polisie oorhandig."
Wienand het gesê sy is kwaad dat die skool haar nie gewaarsku het dat haar dogter se aanvaller Woensdag terug by die skool sou wees nie. Sy kon haar dogter nie voorberei nie.
In die video stap die aanvaller doelgerig oor die speelgronde. Wanneer sy die slagoffer sien, omsingel sy en haar vriendine haar. Die aanvaller lig dan haar arm op en slaan die langer meisie met ‘n vol bottel sap oor haar kop.
Die tiener staan dan geskok terug. Geen onderwysers is sigbaar nie.
Charles Phahlane, woordvoerder van die Gautengse onderwysdepartement, het gesê hy is bewus van die saak en het gevra dat die video na hom aangestuur moet word. Hy het gesê hy sal kommentaar lewer nadat hy met die skool gepraat het.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA