Skoolmeisie in sop oor Facebook-uitlatings
2011-05-08 08:31
Johannesburg – Die onderhoofmeisie van die Hoër Tegniese Skool Tom Naudé in Polokwane is in die sop oor uitlatings wat sy op Facebook gemaak het.
Celeste Diale (17) het gesê haar skool het die “swakste skoolgees” gehad toe Tom Naudé ’n interhoër-atletiekbyeenkoms aangebied het.
Sy het dit toegeskryf daaraan dat ál die rasieleiers wit was.
Celeste, ’n swart leerling, het in Februarie op Facebook gesê die skool het hom by dié byeenkoms in die verleentheid gebring vanweë “gekamoefleerde rasse-kwessies”.
Celeste beweer sy en ander swart leerlinge het aangebied om mede-skoliere danspassies en tradisionele liedjies te leer. ’n Onderwyser het glo geantwoord dat dít ’n oproer (riot) sou veroorsaak.
“Ek het geen probleem met wit rasieleiers nie, ek is ongelukkig oor die kriteria waarvolgens hulle gekies is – ras!” sê Celeste.
Ná haar uitlatings op Facebook wou die beheerliggaam haar titel as onderhoofmeisie wegneem, sê Celeste.
Sy beweer een van die onderwysers het boonop gedreig om haar “balkie af te ruk” en dat sy gevra is om die erekleure van haar kleurbaadjie te verwyder.
Sy weier.
“Ek is steeds onderhoofmeisie, ek dra my balkie en kom steeds al my pligte na.”
Celeste sê die kwessie gaan oor meer as sy self. Sy wil seker maak dat alle leerlinge regverdig behandel word, selfs nadat sy gematrikuleer het.
Die skoolhoof was nie beskikbaar vir kommentaar nie.
Rapport is verwys na Landa Koekemoer, ondervoorsitter van die beheerliggaam.
“Ons betreur die feit dat die Diale-aangeleentheid, ’n interne saak, totaal uit verband geruk word en dat daar ’n groot aantal ongegronde mediaberigte daaroor verskyn het.”
Volgens Koekemoer is ’n taakspan saamgestel om die bewerings te ondersoek.
Die beheerliggaam het Fedsas, die nasionale verteenwoordigende organisasie van beheerliggame, by die saak betrek.
Koekemoer het bygevoeg: “Die skool kan nie verantwoordelikheid aanvaar vir alle gedrag van leerders of opvoeders nie.
“Daarby is hierdie persone se individuele handelinge geensins ’n refleksie van die karakter en etos van die skool nie.”
Interne prosesse ooreenkomstig die Suid-Afrikaanse skolewet word volgens Koekemoer gevolg.
Intussen het verskeie mede-leerlinge en oudleerlinge van die skool, asook vreemdelinge wat van Celeste se situasie te hore gekom het, boodskappe van ondersteuning vir haar op haar Facebook-blad gaan skryf.
Boodskappe wat op Celeste se Facebook-blad gelaat is:
* Dnt knw ya perSnaly bt i thnk yo bravery is REMARKABLE!!. We nid mre people lyk you! #S.A.L.U.T.E#
* Way to go Tsholo, you are a true inspiration :)
* U did ryt by all the former black Tommies… got yo back!
- Rapport