Skoolmeisie glo deur vriende verkrag
2010-05-25 12:06
Johannesburg – ‘n 14-jarige skoolmeisie is vermoedelik deur haar skoolvriende in Uitenhage verkrag, het die polisie in Oos-Kaap Dinsdag gesê.
Volgens lt. kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder, het die groep leerlinge Maandag stokkiesgedraai en by een van die seuns se huise gebly.
“Omstreeks 15:00 het die groep van agt seuns saam met die meisie na haar huis gestap,” het Naidu gesê.
“Die polisie het die groep in die veld by Willow-dam opgemerk en ondersoek ingestel. Met die polisie se aankoms het die kinders op die vlug geslaan. Die polisie het daarin geslaag om die seuns vas te trek. Die meisie is bewusteloos op die grond gevind.”
Twee seuns, onderskeidelik 15 en 18 jaar oud, is in hegtenis geneem en aangekla van verkragting. Die seuns is in dieselfde skool as die meisie.
Volgens Naidu was die leerlinge onder die invloed van alkohol gewees.
- Sapa