Skoolkinders sit by huis oor betogers
2013-02-25 08:10
Johannesburg – Betogers wat paaie in Sterkspruit in die Oos-Kaap versper het, dwing motoriste om minstens R50 te betaal om deur die gebied te ry, het die Daily Dispatch Maandag berig.
Motoriste het aan die publikasie gesê paaie tussen Lady Grey en Sterkspruit is afgesper.
Inwoners van Sterkspruit, wat lede is van die Sterkspruit Burgerlike Vereniging (SCA), dring aan op hulle eie munisipaliteit, en wil nie onder die Senqu-munisipaliteit, wat Lady Grey en Barkly-Oos insluit, val nie.
Ander griewe hou verband met 'n gebrek aan dienslewering in Sterkspruit, en bewerings van korrupsie en nepotisme in die Senqu-munisipaliteit.
Leerders in Sterkspruit gaan al sedert 11 Februarie nie skool toe nie, omdat paaie versper is met klippe en brandende buitebande.
Die SCA het die inwoners se optrede veroordeel.
“Ons veroordeel die klipgooiery na voertuie, die aanranding van mense en die inmenging met noodvoertuie wat verbyry, ten sterkste," het Mcebisi Mgojo, voorsitter van die SCA, aan die koerant gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA