Skoolkinders met drank betrap op eerste dag
2011-01-13 20:00
Johannesburg – Die departement van onderwys in Gauteng is “gewalg” deur foto’s van skoolkinders wat alkohol in die openbaar drink.
“Die gedrag van die leerlinge is ‘n absolute skande. Hulle families, die skool en die onderwysstelsel is in ‘n swak lig geplaas,” het Charles Phahlane, departementele woordvoerder, gesê.
“Die betrokke leerlinge en hul ouers is na die skool ontbied om die voorval te bespreek.”
Die Sowetan het berig dat sommige leerlinge aan die Wes-Rand appelwyn (cider) gedrink het, terwyl hul skool toe gestap het.
Na bewering sal daar dissiplinêre stappe teen die skuldiges geneem word.
Volgens Phahlane het die departement die polisie versoek om ook verdere ondersoek in te stel.
Volg nuus24 op Twitter.
- SAPA