Skoolhoof koelbloedig doodgeskiet
2009-08-25 07:29
Johannesburg – Die polisie het ’n beroep op die gemeenskap gedoen om te help om booswigte vas te trek wat ’n waarnemende skoolhoof in haar kantoor doodgeskiet het.
Die departement van onderwys het Dinsdag gesê Nomzoxolo Dziba (52), waarnemende hoof van die Hoërskool Sithembele Matiso in New Crossroads, is Maandag doodgeskiet.
Die rede vir dié aanval is nog nie bekend nie.
Bronagh Casey, ’n woordvoerder van die departement van onderwys, het ’n beroep op ouers, die gemeenskap, onderwysers en kollegas gedoen om die polisie te help om die moordenaars van die skoolhoof vas te trek.
Die departement het ook sy medelye aan die familie betoon.
Die provinsiale minister van onderwys, Donald Grant, het dié misdaad veroordeel en gesê skole moet ’n plek van veiligheid wees en nie geweld nie.
“Die feit dat dié misdaat op die skoolgrond plaasgevind het, is kommerwekkend en onaanvaarbaar,” het hy gesê.
Geen verdere besonderhede is beskikbaar nie, maar die departement van onderwys het gesê die leerders en onderwysers van die skool ontvang traumabehandeling.
Supt. André Traut, ’n polisiewoordvoerder, was nie onmiddelik beskikbaar vir kommentaar nie.
– Sapa