Skoolhoof in sop oor vraestel in sy kantoor
2010-10-30 09:30
Durban. – ’n Skoolhoof is hier as van sy pligte as eksamentoesighouer onthef toe ’n geskiedenisvraestel waarop die antwoord neergeskryf is, in sy kantoor gekry is.
Dit is die eerste voorval van onreëlmatigheid tydens vanjaar se matriekeindeksamen in KwaZulu-Natal.
Moniteerders van die eksamen het Woensdag die hoërskool in die Durbanse township KwaMashu besoek, het Mbali Thusi, woordvoerder van die provinsiale onderwysdepartement, gister gesê.
Daar was 14 kandidate wat die eerste geskiedenisvraestel geskryf het, maar die moniteerders het gesien die skoolhoof het 20 vraestelle by die verspreidingspunt afgehaal.
Hulle wou toe van die hoof weet waar die ander ses vraestelle is. Volgens die departement het die hoof eers vyf vraestelle te voorskyn gebring en toe later die sesde een in sy kantoor gaan haal.
In ’n dringende vergadering wat met distriksamptenare en provinsiale eksamen-amptenare belê is, het die hoof volgens die departement erken hy het geweet hy mag nie ’n vraestel uit die eksamenlokaal verwyder terwyl die eksamen afgelê word nie.
’n Onderhoof van ’n ander skool is aangestel om as toesighouer by die betrokke skool oor te neem.
Volgens Thusi word die voorval ondersoek en sal die 14 kandidate se antwoordstelle nagegaan word om vas te stel of daar in die groep geknoei is.
- Beeld