Skoolhoof geskors ná video op selfoon
2011-07-25 08:03
Johannesburg – ’n Johannesburgse skoolhoof wat ’n gr. 8-leerling na bewering herhaaldelik met ’n stuk tuinslang geslaan het omdat dié laat vir skool was, is die naweek geskors hangende ’n interne ondersoek.
’n Videogreep wat deur nog ’n leerling van Diversity High School in South Hills met sy selfoon geneem is, is ure ná die voorval na ander leerlinge, hul ouers en die media versprei.
In die videogreep slaan Hosea Maboya, skoolhoof, die leerling verskeie kere met die tuinslang en sê hy aanhoudend “bly stil, bly stil” terwyl die vreesbevange kind skree.
Die kind val dan op die vloer en sê “jammer, Meneer”, maar Maboya gryp hom aan die een arm, skop hom op sy rug en slaan hom weer sowat drie keer.
’n Betroubare bron het aan Beeld bevestig die seun was een van ’n groep laatkommers wat na Maboya se kantoor ontbied is, maar kon nie sê of die ander kinders ook aangerand is nie.
Die Gautengse onderwysdepartement is volgens Charles Phahlane, woordvoerder, met “afsku vervul” nadat hulle die video gesien het en hulle wil ’n duidelike boodskap aan alle onderwysers stuur dat lyfstraf by skole in Suid-Afrika onwettig is.
“Die hoof van die Gautengse departement van onderwys het die skoolhoof tydelik geskors hangende die interne ondersoek,” het Phahlane gesê.
Sunday Times het Sondag berig matriekleerlinge aan die skool het Vrydag geweier om klas te loop nadat hulle van die voorval uitgevind het, maar onderwysers het hulle glo gedreig dat hul matriekafskeid gekanselleer sal word tensy hulle terugkeer klas toe.
Een matriekleerling het luidens die berig gesê een van die onderwyseresse het hulle kwaad gemaak toe sy daarop aangedring dat hulle die skoolhoof ondersteun en glo gesê het: “Daardie (lyfstraf) het nie die kind ’n les geleer nie.”
Phahlane het gesê die departement is bewus van ’n tweede voorval wat vandeesweek by die skool plaasgevind het waartydens ’n onderwyseres ook op video vasgevang is terwyl sy ’n 16-jarige meisie aanrand.
In die tweede video dwing die onderwyseres die meisie om haar hande in yskoue water te druk en slaan sy die kind dan met ’n borduitveër oor die kneukels.
Die skool was tot in 2004 bekend as die Hoërskool J.G. Strijdom. Dit het sowat 805 leerlinge.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld