Skoolhoof geskors ná uniform-debakel
2012-02-23 14:06
Johannesburg – Die skoolhoof van die Cosmo City-laerskool naby Fourways in Johannesburg is geskors, het RSG berig.
Dit volg nadat 'n tienjarige skoolmeisie gedwing is om haar skoollangbroek uit te trek en die hele dag in haar broekie te sit.
Die meisie het 'n grys langbroek aangehad in plaas van 'n rompie toe sy na bewering gedwing is om die langbroek uit te trek.
Sy het die hele skooldag in haar skoolhemp, trui en broekie in die klaskamer deurgebring.
Sy is ná skool blykbaar ook gedwing om sonder haar langbroek huis toe te gaan, omdat die langbroek intussen weggeraak het.
Die skoolhoof ontken die bewerings en sê dat sy die kind gedurende klastyd tot 10:00 onder 'n motorafdak laat staan het.
Sapa het Woensdag berig die hoof is as Kgomotso Khumalo geïdentifiseer.
Luidens RSG het Barbara Creecy, Gautengse LUR vir onderwys, die skorsing bevestig en gesê die skoolhoof se gedrag was onvanpas.
Volg Nuus24 op Twitter