Skool wys glo swanger tiener weg
2010-05-26 11:38
Kaapstad – Die departement van onderwys in KwaZulu-Natal het uitgevaar teen ‘n hoërskool wat ‘n swanger 17-jarige meisie van Durban die deur gewys het.
Die gr. 12-leerling is uit die skool gehaal omdat verskeie ouers van mening was dat sy die “skool ‘n slegte naam sal gee”, het The Mercury berig.
“Dit is teen die wet vir enige skoolhoof of onderwys om ‘n leerling uit die skool te haal omdat sy swanger is,” het Sihle Mlotshwa, woordvoerder vir die departement, aan Nuus24 gesê.
Volgens hom moedig die departement nie tieners aan om swanger te word nie, maar hulle mag definitief nie uit die skool gehaal word nie.
“Die leerling moet weer toegelaat word om met haar studies voort te gaan,” het hy gesê en bygevoeg dat die departement die voorval verder sal ondersoek.
Verkragting:
Volgens ‘n maatskaplike werker is die tiener glo verkrag en het sy daarna swanger geword.
“Sy mag nie skool toe gaan nie, want die ouers soek nie ‘n swanger kind by die skool nie,” het Siyabonga Nzimande gesê.
Verskeie onderwysers by skool was glo teen hierdie besluit.
- Nuus24
Volg Nuus24 op Twitter.