Skool wil uitvind hoeveel gesteel is
2011-10-12 07:06
Pretoria – ’n Interne forensiese ondersoek word gedoen om vas te stel presies hoeveel geld die rekenmeester van die Nuwe Hoop-skool in Pretoria na bewering gesteel het.
Die skool se beheerliggaam onderhandel al met “onderskeie derde partye” om die vermiste geld terug te kry.
Dit kom nadat Bronwyn van Rooyen (34) van Faerie Glen in Pretoria verlede week op verskeie klagte van diefstal gearresteer is.
Die Pretoriase handelshof het Vrydag gehoor sowat R5 miljoen het glo oor sowat drie jaar uit die skool se bankrekening verdwyn.
Van Rooyen is op borgtog van R10 000 vrygelaat.
Adv. Dawid Brits, voorsitter van die Nuwe Hoop-skool se beheerliggaam, het Maandag in ’n verklaring gesê Van Rooyen is op 1 September 2008 deur die Gautengse departement van onderwys as ’n “senior voorsienings-administratiewe klerk” by die skool aangestel. Sy was verantwoordelik vir die skool se boekhouding.
“Na aanleiding van inligting en nadere ondersoek wat daaruit voortgespruit het, het die skool se beheerliggaam op 5 Oktober vanjaar ’n saak van diefstal van skoolgeld by die Brooklyn-polisiekantoor teen Van Rooyen aanhangig gemaak. Sy is dieselfde dag gearresteer,” lui die verklaring.
Hoewel dit aanvanklik geblyk het ’n bedrag van R2,7 miljoen is “onregmatig toegeëien”, is later gevind sowat R5 miljoen het vermis geraak.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld