Skool treur oor seuns se tragiese dood
2010-09-24 12:14
Die Burger
George - Die ongeluk wat Woensdagmiddag die lewens van twee leerders van die Worcester Gimnasium op die N2 naby Albertinia geëis het, het die skool in rou gedompel.
Grant Brinkhuis (14) het Woensdag op die toneel aan sy beserings beswyk en Lomar van der Vyver (14) is Donderdagoggend aan sy beserings dood.
Albei was gr. 8-leerders en lede van die skool se o.14- krieketspan. Hulle was na George onderweg om aan ’n kriekettoernooi by die P.W. Botha Kollege deel te neem toe die ongeluk gebeur het.
Altesaam 14 seuns het in die bussie gereis. Twee van hulle se toestand was Donderdag steeds kritiek, terwyl vyf ander se toestand as ernstig beskryf is.
Die bussie waarmee hulle gereis het, het omgeslaan toe die bestuurder glo beheer verloor het.
’n Biduur is Donderdag by die skool gehou.
Wilhelm Fröhlich, adjunkhoof, het aan Die Burger gesê die gemeenskap is geskok oor die ongeluk.
“Dit is ’n groot tragedie. So iets het nog nie voorheen met die skool gebeur nie.”
Hy het gesê die o.15-span en hul afrigter het self besluit om voort te gaan met deelname. Dié span was ’n entjie voor die o.14-span in ’n ander voertuig toe die ongeluk gebeur het.
Die skool se o.19-span het Donderdagoggend na die toernooi vertrek.
Fröhlich het gesê hy steun die o.15-span se besluit om voort te gaan met deelname. “Dit gee hulle iets anders om op te fokus as die trauma.”
André Gie, ’n onderwyser van die skool wat kort ná die ongeluk saam met die hoof, dr. Hennie van der Westhuizen, na Mosselbaai gereis het, het gesê die leerders wat uit die hospitaal ontslaan is en dié wat nie in die ongeluk beseer is nie, het Donderdag na Worcester teruggekeer.
Kapt. Malcolm Pojie, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het gesê ’n klag van strafbare manslag word ondersoek.
Die toernooi by die P.W. Botha Kollege gaan voort. Tones Fourie, die skoolhoof, het gesê die spanne moes herrangskik word ná die ongeluk.
* Verslagspan: Eugene Gunning, Jackie Kruger en Leighton Koopman.
- Die Burger