Skool se rekenmeester vas weens R5 m.-bedrog
2011-10-07 09:08
Pretoria – Nadat ’n Pretoriase skool vir gestremde kinders vanjaar sy skoolgeld drasties moes verhoog om finansieel die mas op te kom, is dié skool se rekenmeester vir beweerde bedrog gearresteer.
Bronwyn van Rooyen (34) van die Nuwe Hoop-skool is Woensdag by haar huis in die ooste van Pretoria deur die polisie op aanklagte van bedrog in hegtenis geneem, het brig. André Wiese Donderdag bevestig.
Sy is steeds in aanhouding.
Dit blyk dat die bedrog ongeveer R5 miljoen beloop en oor ’n tydperk van tussen een en drie jaar gepleeg is.
Rynhart Kruger, Van Rooyen se prokureur, wou nie gister oor die bewerings uitbrei nie, maar het gesê die beskuldigde sal na verwagting vandag in die hof verskyn.
’n Woordvoerder van die skool het Donderdag gesê hy is nie in posisie om kommentaar te lewer nie omdat die aangeleentheid nog ondersoek word.
“Ons sal binnekort ’n verklaring uitreik, sodra ons al die feite het.”
Beeld het vroeër berig die Nuwe Hoop-skool, vir leerlinge met spesiale onderrigbehoeftes, moes sy skoolgeld met byna 65% verhoog.
Dawie Harmse, hoof, het toe verduidelik dat die resessie die skool geknou het, terwyl daar ook sedert 2008 ’n afname in borgskappe en skenkings was.
Volgens hom het die skool 400 leerlinge en ’n begroting van ongeveer R7 miljoen.
Die staatsubsidie dra net R2 miljoen hiertoe by.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld