Skool se eerstespan-rugbyspeler verkrag glo meisie
2010-11-12 13:37
(twitter.com/carlitothompson)
Kaapstad – ‘n Lid van die eerste rugbyspan aan die Hoër Landbouskool Jacobsdal het Vrydag in die plaaslike landdroshof verskyn op aanklag van verkragting van ‘n 14-jarige medeleerling.
‘n Lid van die slagoffer se familie het Nuus24 Vrydag van die voorval verwittig.
Die skool het later in ‘n persverklaring gesê ‘n “insident” het “na bewering ” Vrydagmiddag 5 November tussen twee leerders van die skool plaasgevind. In die verklaring sê die skool dat 'n klag van verkragting by die polisie aangemeld is.
Konst. Thabo Litabe het bevestig dat die 19-jarige skoolseun Donderdag in hegtenis geneem is en dat hy Vrydag in die landdroshof verskyn het.
Litabe het bygevoeg dat die polisie 'n saak van verkragting ondersoek.
Die skoolseun is op borgtog vrygelaat. Dit is nie bekend of hy gepleit het nie.
Volgens die Landbouskool se verklaring het die klaagster die voorval op Maandag 8 November vir die eerste keer aan ‘n graad 11-leerling en twee kamermaats in die koshuis meegedeel.
Die twee kamermaats het die toesighouer in die koshuis die volgende aand van die voorval vertel.
Die familielid het aan Nuus24 gesê dat die tiener “te bang was om dit aan te meld.”
Die voorval is voorts aan die skoolhoof en SAPD gerapporteer.
Nie een van die twee leerders sal verdere skoolverrigtinge bywoon nie, maar behou hul reg om eksamen te skryf.
Volg Nuus24 op Twitter.