Skool mag self taal besluit
2009-10-14 11:33
Johannesburg - Mpumalanga se departement van onderwys het onwettiglik opgetree deur Hoërskool Ermelo te dwing om sy taalbeleid te verander.
Dit was Woensdag die beslissing van die konstitusionele hof.
Die hof het egter die skool se bestuursliggaam opdrag gegee om sy taalbeleid te hersien.
Hoërskool Ermelo skenk voorkeur aan Afrikaanssprekende kinders.
"Hoërskool Ermelo se bestuursliggaam moet sy taalbeleid hersien en 'n nuwe beleid volgens die Konstitusie bepaal," het Dikgang Moseneke, adjunkhoofregter, gesê.
Mpumalanga se departement van onderwys het in Augustus by die hooggeregshof aansoek gedoen om appèl aan te teken teen ‘n beslissing dat Hoërskool Ermelo kan terugkeer na onderrig in Afrikaans.
Die appèlhof in Bloemfontein het in Maart bepaal dat die skool se bestuursliggaam, en nie die onderwysdepartement nie, die mag het om die taalbeleid by ‘n skool te bepaal.
Die saga het in Januarie 2007 begin toe die skool se bestuursliggaam besluit het dat hulle nie die skool se Afrikaanse taalbeleid gaan verander vir die paar leerders wat in Engels wil leer nie.
- Sapa