Skool gesluit omdat onnies kinders vrees
2013-02-28 07:31
Johannesburg – Geen klasse is die afgelope week by die Wongalethu-hoërskool in Mdantsane in die Oos-Kaap aangebied nie, het 'n berig Donderdag gelui.
Dispatch Online het berig dat onderwysers verlede week tydens 'n protesoptog uit die skool gevlug het uit vrees vir intimidasie deur leerders.
Gr. 12-leerders het met 'n protesaksie begin omdat hulle enigste wiskunde-onderwyser na 'n nabygeleë skool gestuur is, en hulle dring daarop aan dat hy heraangestel word.
"Ons is bekommerd dat ons oor net 'n paar maande met eksamens moet begin en ons kan dalk druip want ons het nie 'n wiskunde-onderwyser nie," het Lukhanyo Booi, hoof van die leerders se raad van verteenwoordigers, gesê.
"Ons is genoodsaak om ons onderwyser ná skool te ontmoet vir lesse in groepe van 10 tot 15. Dit put ons en ook hom uit."
Leerders het die Mdantsane-polisiestasie en die Mdantsane-landdroshof genader vir 'n permit om Maandag te betoog, omdat hulle hul griewe by die hoofkantoor van die provinsiale onderwysdepartement wou afgee. Hulle kon egter nie vervoer na die departement se kantoor kry nie.
'n Vergadering is intussen met onderwysers, die skool se beheerliggaam, die leerders en hul ouers belê deur Sihle Mnguni, distriksdirekteur van die onderwysdepartement se kantoor in Mdantsane.
"Dit was meer 'n luistersessie as 'n vergadering, daarom kan ek nog nie besonderhede bekend maak nie, maar ons sal weer met hulle vergader," het Mnguni volgens die publikasie gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA