Skoliere woedend vir Survivor-man
2010-03-10 22:04
Johannesburg – Die polisiewa waarin Molemo Maarohanye, beter bekend as die hip-hop-kunstenaar Jub Jub, en Themba Tshabalala Woensdag van die Protea-landdroshof vervoer is, is deur woedende skoliere met klippe bestook.
Duisende skoliere van verskeie skole in Soweto het die strate voor die hof, waar die twee op aanklagte van moord verskyn het, ingevaar.
Maarohanye en Tshabalala het Maandag glo vier skoliere doodgery terwyl hulle met twee Mini Coopers resies gejaag het.
Skoliere het met plakkate geloop wat gelees het: “Geen borgtog, ons soek geregtigheid”.
Miyelani Shabangu, ‘n vriend van een van die slagoffers, het gesê dat hulle wil sien hoe Jub Jub en sy vriend vir ‘n baie lang tyd tronk toe gaan vir wat hulle glo gedoen het.
“Ons is glad nie gelukkig nie. Hy moet gestraf word vir wat hy gedoen het. Ons wil hê hy moet vir ‘n baie lang tyd tronk toe gaan.
“Ek het nog steeds seer. Andile [Mthombeni] was ‘n baie goeie vriend van my,” het hy gesê.
Hy het bygevoeg dat hy nie wil hê die beskuldigde moet op borgtog vrygelaat word nie.
Die 16-jarige Mthombeni was een van die vier wat in die ongeluk oorlede is.
Die ander drie was Prince Mohube, Mlungisi Cwayi en Phomello Masemola.
Twee ander skoliere is ernstig beseer in die ongeluk.
Die saak is na 17 Maart uitgestel vir verdere ondersoek.
- Sapa