Skoliere hospitaal toe vir voedselvergiftiging
2011-07-28 18:39
Johannesburg – Altesaam 48 skoliere van die Silukhanyo Primêre Skool in die Strand is Donderdag na ‘n hospitaal geneem ná hulle gekla het van simptome van voedselvergiftiging, het paramedici in die Wes-Kaap gesê.
Hulle het glo ‘n “suikerige eetding” die oggend ingeneem en ‘n uur later van hoofpyne, maagkrampe, naarheid, en braking begin kla, het Andre Visser van ER24 gesê.
Die leerders, wat van Asanda is, is na die Helderberg-hospitaal en Ikhwezi-kliniek geneem, het Keri Davids van die provinsie se departement van gesondheid gesê.
Een-en-dertig kinders is later uit die Helderberg-hospitaal ontslaan.
‘n Verpleegster by Ikhwezi, Koolsom Haroun, het gesê die ander 17 leerders is ook ontslaan.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA