Skolier vertel hoe skieter by skool met pistool speel
2013-02-07 13:00
Kaapstad – ‘n Leerling van die stad wat aangehou word nadat hy na bewering twee ander skoliere geskiet het, het glo die pistool die hele dag by hom gedra.
Cape Times berig leerlinge aan Hoërskool Oaklands in Lansdowne, Kaapstad, het gesien hoe die 14-jarige seun tydens pouse met die vuurwapen gespeel het.
“Hy het die vuurwapen skool toe gebring en dit tydens klastyd in sy sak gehad. Hy en van sy vriende het gedurende eerste pouse daarmee gespeel. Ek het gesien hoe hy ná skool in die taxi met die vuurwapen gespeel het,” het ‘n graad 11-leerling aan die koerant gesê.
Lt.kol. Norman Joseph, ‘n polisiewoordvoerder, sê die vermeende skieter en twee ander leerlinge het vroeër die week in die taxi huis toe gery toe die voorval gebeur het.
“Die verdagte het toe die vuurwapen uitgehaal en die twee leerlinge voor geskokte pendelaars geskiet,” het hy gesê.
‘n Graad 8-leerling is in die hand en been geskiet en ‘n graad 10-kind is in die regterbeen getref.
Alaric Jacobs, woordvoerder vir Groote Schuur Hospitaal, sê die jonger slagoffer is reeds ontslaan. Die ander tiener is in ‘n stabiele toestand nadat hy ‘n operasie ondergaan het.
Luidens die berig sal die verdagte Vrydag in die hof verskyn.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA