Skolier pak departement in hof
2010-02-03 07:07
Susan Cilliers
Johannesburg - ’n Krugersdorpse hoërskoolseun dien vandag ’n aansoek by die hooggeregshof in Johannesburg in om die Gautengse onderwysdepartement te dwing om hom tot gr. 12 te bevorder.
Edwin Botha (18) vra ook dat sy voormalige skool, die Hoërskool Noordheuwel, hom hertoelaat en herstel in sy amp as onderhoofseun.
Edwin het dié skool luidens hofstukke in Oktober verlede jaar verlaat nadat hy emosioneel ineengestort het ná ’n inisiasieseremonie en skorsingdreigemente. Nou wil die skool hom nie hertoelaat nie en die Gautengse onderwysdepartement sê hy moet sy gr. 11-jaar oordoen.
Die skool se beheerliggaam het luidens hofstukke in Oktober verlede jaar gevra dat Edwin geskors word nadat hy op Facebook te velde getrek het teen die “inisiasieproses” wat hy moes ondergaan toe hy tot onderhoofseun verkies is.
Beet en stroop is glo oor sy “privaatdeel” gegooi terwyl ’n selfoonvideo van die petalje geneem is. Edwin is luidens hofstukke ook “homoseksueel”, “hopeloos” en ’n “sissie” genoem en sy kop is met geweld in ’n asblik gedruk.
Nadat Edwin aan die skoolhoof, dr. J.A.C. Fourie, te kenne gegee het hy gaan die skool verlaat, het dié glo gesê hy word bevorder na gr. 12, omdat sy punte goed is. Edwin het gevolglik nie sy gr. 11-eindeksamen afgelê nie.
Barbare Creecy, LUR vir onderwys in Gauteng, en Elize Froneman, direkteur van die departement van onderwys in Gauteng-Wes, albei verweerders in die hofgeding, sê egter in hofstukke Fourie het Edwin sonder toestemming en strydig met die provinsie se bevorderingsbeleid tot gr. 12 bevorder. Hulle staan Edwin se aansoek daarom vandag teen.
Edwin het erekleure vir verskeie prestasies gekry en was een van die tien toppresteerders in sy graad. Hy ly volgens hofstukke aan ’n angsversteuring waarvoor hy medisyne gebruik en waaroor sy onderwysers ingelig is.
Nadat hy verlede jaar tot hoofseun verkies is, het senior leerlinge glo gedreig dat hy aan ’n “erger graad van inisiasie” onderwerp gaan word.
Renette Viljoen, onderhoof, het Edwin na bewering beloof dit sal nie gebeur nie en dat sy hom sal beskerm. Nogtans, beweer Edwin in hofstukke, het sy toegekyk en niks gedoen nie toe hy aan ’n “onwettige inisiasieproses” moes deelneem.
Volgens Edwin het hy die besluit om die skool te verlaat onder “druk, tydens geweldige traumatiese en emosionele omstandighede en sonder regsadavies” geneem.
Fourie het gesê hy kan nie kommentaar lewer nie omdat die saak sub judice is.
- Beeld